Dit is voorgestel dat hierdie artikel Verdeel moet word. Die voorgestelde bladsye is: Moeras en Vlei (bespreek) |
Moerasse is oppervlaktes land wat permanent of vir die grootste deel van die jaar onder water staan. Die water is stagnant omdat sulke gebiede swak gedreineer is. Plantegroei soos mosse en hoër plante kom gewoonlik oor die grootste gedeelte van moerasse voor, in teenstelling met mere en panne, waar sulke plante slegs aan die kante groei.
Die plant- en dierelewe wissel van arm in suurmoerasse tot baie ryk in moerasse met baie voedingstowwe. Vleie is klein oppervlaktes versadigde of oorstroomde grond met dieselfde eienskappe as moerasse. Moerasse en vleie staan in Engels as "wetlands" bekend omdat dit eienskappe van sowel water as land besit. Dit is juis hierdie kombinasie wat moerasse en vleie baiekeer biologies so produktief maak. Normaalweg word met die begrip moeras bedoel 'n groot gebied met min of meer staande, vlak water met heelwat droë land tussenin.
'n Vlei is 'n klein oppervlakte deurslagtige grond of vlak water, gewoonlik in ʼn laagte. Een van die maniere waarop moerasse en vleie gevorm word, is deur die geleidelike opvulling van mere en panne. Moerasse en vleie word tradisioneel as ongewens beskou omdat dit broeiplek aan muskiete bied, nie bewerk kan word nie en die bou van paaie, spoorweë ensovoorts bemoeilik. Moerasse en vleie is ekologies egter baie belangrik en daarom hou dit regstreeks of onregstreeks ook vir die mens voordele in.
Een van die voordele is dat dit groot hoeveelhede water hou wat geleidelik in strome en riviere vrygelaat word. Moerasse en vleie funksioneer dus soos sponse deur in nat seisoene water op te gaar en dit gedurende droë seisoene geleidelik vry te stel. Veral in 'n relatief droë land soos Suid-Afrika is hierdie effek baie belangrik en lei die kunsmatige dreinering van vleierige gebiede tot die vinnige opdroging van strome in die droë seisoen.
Deurdat hierdie gebiede ook groot hoeveelhede water kan absorbeer, help dit om oorstroming te voorkom. Veen (halfverteerde, dooie organiese materiaal) word uit die suurmoerasse van die Noordelike Halfrond gehaal en as brandstof en bemesting vir tuine gebruik. Die mout wat deur middel van veenvure berook word, gee byvoorbeeld aan Skotse whisky sy kenmerkende geur. Soutmoerasse langs die kus regoor die wêreld is belangrike broeiplekke vir visse, oesters, ensovoorts en is dus ook van belang vir die handel.
Hierdie moerasse, asook varswatermoerasse, is belangrike broeiplekke vir voëls. Die voëls- en soms ook diere, soos in die geval van die Okavangomoeras in Botswana - lok dikwels toeriste daarheen en stimuleer sodoende die toeristebedryf. Drie hooftipes moerasse kan onderskei word, naamlik suurmoerasse, gewone moerasse met baie voedingstowwe en soutmoerasse.